Gaan na inhoud

Lockheed L.18 Lodestar

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie

Die Lockheed L.18 Lodestar was ’n direkte ontwikkeling van die Lockheed L.14 Super Electra en het sy nooiensvlug op 21 September 1939 gehad. Hierdie vliegtuig het voorsiening vir drie bemanningslede en 14 passasiers gehad en is in Maart 1940 vir die eerste keer in gebruik geneem. Daar is uiteindelik meer as 600 Lodestars vir kommersiële en militêre diens geproduseer. Meer as 12 lugrederye op vier vastelande het teen die einde van die Tweede Wêreldoorlog steeds die Lodestar gebruik. Gedurende die oorlog is die Lodestar wyd deur die United States Army Air Forces en die Amerikaanse Vloot vir die transportrol aangepas. Die militêre variante het bestaan uit die C-56 (USAAF, luukse weergawe en algemene personeeltransportvliegtuig), R50-1 (VSA-vloot-ekwivalent van die C-56), C-57 (USAAF, verskillende enjin- en kajuitinstallasies), C-59 (USAAF, 14 passasiers), R50-2 (VSA-vloot-ekwivalent van die C-59), R50-3 (VSA-vloot- luukse transportvliegtuig), C-60 (USAAF, 18 ten volle gewapende troepe) en drie VSA-vloot-ekwivalente van die C-60, naamlik die R50-4 (vier tot sewe passasiers), die R50-5 (14 passasiers) en die R50-6 (18 troepe).[1]

Operasionele gebruik

[wysig | wysig bron]
Veldmaarskalk Jan Smuts staan by die Lockheed Lodestar met die reeksnommer 234.

Die Lockheed Lodestar lyk nes die Lockheed Ventura en kon vir 12 passasiers toegerus word. Die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) het kort voor die Tweede Wêreldoorlog 29 eenhede van hierdie vliegtuig bestel. Voordat hulle afgelewer kon word, het die Tweede Wêreldoorlog uitgebreek en by die aankoms van die vliegtuie is hulle onmiddellik in diens van die Suid-Afrikaanse Lugmag (SALM) geplaas. Hulle is grootliks op die transportroete van die Unie van Suid-Afrika na Kaïro in Egipte gebruik. Met die aankoms van die Douglas DC-3 is die Lodestars van die pendelroete onttrek en op korter roetes gebruik. Reeksnommers in die groepe 231 tot 249 en 1370 tot 1378 is aan die Lodestars van die Suid-Afrikaanse Lugmag toegeken.[2]

Die Lockheed Lodestar met die reeksnommer 1371 wag om ongevalle by ’n landingsveld in die Westelike Woestyn af te voer.

Altesaam 27 van die SAL se Lodestars is deur die SALM oorgeneem en SALM-reeksnommers gegee. Die SALM het die twee Rooikruis-Lodestars as ambulansvliegtuie gebruik en die nommers 1371 en 1378 aan hulle toegeken. (Lodestar 1371 word in die Fotogalery geïllustreer: Suid-Afrikaanse Lugmag-personeel dra ’n ongeval na die vliegtuig sodat hy/sy met die Lodestar afgevoer kan word.) Die Suid-Afrikaanse Lugdiens het gedurende die Tweede Wêreldoorlog die Lugdiensvleuel geword, toe die Bomwerpertransportbrigade en uiteindelik Nommer 5 Vleuel. SALM-Lodestars het aanvanklik die volle SAL-kleure met SALM-kentekens en SALM-reeksnommers gehad, maar is later in ’n kamoefleerskema van donkergroen en donker grond op die boonste oppervlakke en hemelblou op die onderste oppervlakke oorgeverf. Die ambulansvliegtuie het prominente rooi kruise gehad. Die Lodestars is deur verskillende vlugte van Nommer 5 Vleuel by Lugmagstasie Germiston bedryf. Die Lodestar met die reeksnommer 234 is ná die Tweede Wêreldoorlog deur Nommer 28 Eskader as BBP-vliegtuig vir die Eerste Minister behou.[3]

Die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) was ’n belangrike gebruiker van die Lodestar, maar oorlog het uitgebreek voordat daar met aflewering aan die SAL begin kon word en die vliegtuie is direk na die SALM oorgeplaas. Die SAL het oorspronklik 29 eenhede bestel. Nog twee vliegtuie is gedurende 1941 aan die Suid-Afrikaanse Rooikruisvereniging afgelewer.[4]

Ses vliegtuie het in laat-1944 na SAL-diens teruggekeer. Verdere vliegtuie is ná die Tweede Wêreldoorlog aan die SAL terugbesorg. ’n Totaal van 19 vliegtuie was teen 1948 in diens van die SAL, wat die twee Rooikruisvliegtuie ingesluit het. Die Lodestars is op die SAL se binnelandse en streeksdienste gebruik. Daar is vanaf 1950 oor die Lodestars beskik, en die laaste van hulle is in 1955 aan diens onttrek.[4] [3]

Die Suid-Afrikaanse Lugdiens het 29 Lodestars bestel, maar hulle is gedurende die Tweede Wêreldoorlog deur die SALM gebruik. Die SAL het die Lodestar van 1944 tot 1955 op sy binnelandse en streeksdienste gebruik.

Vlootlys

[wysig | wysig bron]

Die name in die lys hieronder is oorspronklike name en nie die naoorlogse name nie; bevestigde name verskyn in vetdruk.

Registrasie Konstruksie-
nommer
SALM-
reeksnommer
Naam Nota
ZS-ASJ(1) 2015 231 Richard King
ZS-ASK 2016 232
ZS-ASL(1) 2017 233 Andries Pretorius
ZS-ASM 2019 237 Sir Harry Smith ná die oorlog nie terug na die SAL nie
ZS-ASN(1) 2026 1372 later statiese uitstalling by SAL
ZS-ASO 2029 1370 Lord de Villiers
ZS-ASP 2030 234
ZS-ASR 2032 235
ZS-ASS 2033 236 Daniel Lindley
ZS-AST(1) 2034 teruggehou om lugrederydiens namens SAL te bedryf;
neergestort op 28 Maart 1941
ZS-ASU 2035 1373
ZS-ASV 2036 1377 Sir J Gordon Sprigg
ZS-ASW 2037 238 Sir JC Molteno
ZS-ASX 2038 239 Kmdt Louw Wepener
ZS-ASY 2044 240 Harry Escombe
ZS-ASZ 2045 241 Onze Jan
ZS-ATA 2046 1374 Jan van Riebeeck
ZS-ATB 2047 242 Lord Charles Somerset
ZS-ATC 2048 1375 Simon van der Stel
ZS-ATD 2050 243 Sir Benjamin D’Urban
ZS-ATE 2051 244 Earl of Caledon
ZS-ATF 2052 245 Erasmus Smit
ZS-ATG 2053 246 Sir John Cradock
ZS-ATH 2054 President Burgers neergestort te Wingfield op afleweringsvlug
ZS-ATI 2055 249 Gerrit Maritz
ZS-ATJ 2056 247 Thomas Halstead
ZS-ATK 2057 248 Major Warden
ZS-ATL 2058 hierdie vliegtuig was teruggehou vir toegewyde amptelike
gebruik deur die Suid-Afrikaanse Spoorweëadministrasie;
later by SALM-museum vertoon
ZS-ATM 2066 1376
ZS-AVS 2069 1371 SA Rooikruis-vliegtuig
ZS-AVT 2137 1378 SA Rooikruis-vliegtuig

                                             

Nota: Bostaande tabel is gegrond op Spring en Becker.[3][4]

Beskikkings, ongelukke, naoorlogse Lodestar-vloot en individuele name

[wysig | wysig bron]

Let daarop dat die eerste drie Lodestars vir gebruik in die ontruiming van Kreta aan die Britse Koninklike Lugmag (RAF) verkoop is.[5]

Registrasie Naam Lot
ZS-ASJ na RAF as AX685
ZS-ASK na RAF as AX686
ZS-ASL na RAF as AX687
ZS-ASM verkoop as CR-ADJ, bedryf deur DETA, in 1964 by Maputo aan diens onttrek
ZS-ASN Andries Pretorius gepreserveer
ZS-ASO Lord Charles Somerset het VP-KHV geword (1951 geregistreer, bedryf deur EAAC); verkoop as N65C
ZS-ASP Richard King Julie 1955 verkoop as N667
ZS-ASR nieoperasioneel, vir onderdele
ZS-ASS SALM 236 18 November 1941 neergestort
ZS-AST neergestort op 28 Maart 1941
ZS-ASU Piet Retief as VP-KHW verkoop (1951 geregistreer, bedryf deur EAAC); terug na ZS-DHK (1953 geregistreer); toe na SE-CDR, N6064V, N102V
ZS-ASV Simon van der Stel 1 Februarie 1959 afgeskryf
ZS-ASW Sir Benjamin D’Urban 5 Januarie 1948 onherstelbaar beskadig
ZS-ASX Willem Adriaan van der Stel Junie 1950 (of in 1951) as VP-KHX verkoop; toe na N94550
ZS-ASY Sir Harry Smith Julie 1953 as N669 verkoop
ZS-ASZ SALM 241 17 Junie 1941 neergestort
ZS-ATA Alexander Biggar Julie 1955 as N670 verkoop
ZS-ATB President Brand as VP-KHY verkoop (1951 geregistreer, bedryf deur EAAC); toe na N94547 en toe N56M
ZS-ATC Hendrik Swellengrebel as VP-KHZ verkoop (in 1951 geregistreer, bedryf deur EAAC); toe na N94548 en toe CF-FYR
ZS-ATD Sir George Grey September 1950 of in 1951 as VP-KIA verkoop (bedryf deur EAAC); toe terug na ZS-DHL (1953 geregistreer)
ZS-ATE Ryk Tulbagh as VP-KIB verkoop (in 1951 geregistreer, bedryf deur EAAC); toe na N94546, N57M en N777Z
ZS-ATF Sir Hercules Robinson November 1954 as CR-AEP verkoop (bedryf deur DETA); in 1962 as KA31 na die Katanga-lugmag
ZS-ATG SALM 246 6 Mei 1942 neergestort
ZS-ATH neergestort te Wingfield op afleweringsvlug
ZS-ATI General JW Janssens September 1955 as N671 verkoop; toe na XB-MAR
ZS-ATJ SALM 247 13 April 1943 neergestort
ZS-ATK SALM 248 19 Desember 1942 neergestort
ZS-ATL Jan van Riebeeck gepreserveer
ZS-ATM Sir John Cradock as VP-YWY verkoop (1964 geregistreer); toe na 9J-RBM, VP-WCN (1968 geregistreer, bedryf deur Hunting Surveys); Februarie 1970 by die Randse Lughawe opgebreek
ZS-AVS Louis Trichardt Julie 1955 as N672 verkoop
ZS-AVT President Burgers as N673 verkoop

Nota: Bostaande tabel is gegrond op Spring, Brent en Air-Britain 1981.[4][2][6]

SAL-museumvliegtuig, Lockheed L.18-08 Lodestar ZS-ASN kon.-no 2026

[wysig | wysig bron]

Die eerste museumvliegtuig wat deur die SAL verky is, was Lockheed L18-08  Lodestar ZS-ASN. Hy het per pad op 3 Desember 1973 in die SAL- tegniese gebied aangekom en is in Loods 4 gestoor. Die vliegtuig is deur die Vakleerlingopleidingskool gerestoureer en is vir die eerste keer in die openbaar vertoon tydens ’n opedag wat op 10 Oktober 1975 in die tegniese gebied gehou is.[7] Die konstruksienommer van hierdie vliegtuig is 2026.[8]

Die Lockheed Lodestar-vliegtuie is net voor die Tweede Wêreldoorlog deur die SAL bestel en nadat oorlog ’n aanvang geneem het, is die vliegtuie deur die Suid-Afrikaanse Lugmag (SALM) in gebruik geneem. Die vliegtuie is vanaf 8 Julie 1941 vir die pendeldiens tussen Suid-Afrika en Egipte gebruik. Die meeste van hulle was in ’n kamoefleerskema van donkergroen, donker grondkleur en hemelblou onderkante geverf.[8]

Ná die Tweede Wêreldoorlog het ZS-ASN deel van die SAL-vloot geword. Sy laaste vlug vir die SAL, ’n opleidingsvlug onder leiding van Kaptein Kenneth “Toddy” Bain, het op 18 Maart 1955 plaasgevind. Die vliegtuig is in April 1955 aan die Aircraft Operating Company (AOC) verkoop en is in ’n lugopmetingsmasjien omskep en is Afrika-wyd vir lugopmetingswerk gebruik totdat hy aan diens onttrek is. Hy is deur ’n Douglas DC-3 vervang, wat ook ZS-ASN geregistreer is.[8]

Lodestar ZS-ASN nommer 1 was die eerste vliegtuig wat vir tentoonstelling in die voorgestelde Spoorwegmuseum by Esselenpark verkry is. Esselenpark was baie naby die eertydse Jan Smuts-lughawe (nou O.R. Tambo Internasionale Lughawe) geleë. AOC het die vliegtuig aan die SAL geskenk en hy is op 3 Desember 1973 onder leiding van mnr. A.P. Nel deur ’n span van die SAL-vakleerlingopleidingskool vanaf Grand Central-lughawe naby Halfweghuis vervoer. Die vliegtuig is sonder sy vlerke in Loods 4 by Jan Smuts-lughawe gestoor.[8]

Die SAL-vakleerlingskool het in 1974 met die restourasieproses begin. ZS-ASN(1) skitter nou in sy oorspronklike na-oorlogse SAL-kleure. Hierdie besondere vliegtuig is van belang omdat hy die oudste bestaande vliegtuig in Suid-Afrika is en deur die Suid-Afrikaanse Lugdiens gebruik is.[8]

Die vliegtuig is nou deel van die Suid-Afrikaanse Lugdiens-museumvereniging se versameling by die Randse Lughawe.[8]

Lodestar Andries Pretorius[8]

  • Op 24 September 1940 aan die SAL oorhandig
  • Aan boord die motorvaartuig Tigre na SA verskeep
  • Op 7 November 1940 as 1372 na SALM
  • Op 9 Februarie 1946 as ZS-ASN terug na SAL
  • Op 22 April 1955 aan Aircraft Operating Company afgelewer
  • Februarie 1973 registrasie gekanselleer

Ander instansies wat die Lodestar bedryf het

[wysig | wysig bron]
  • Commercial Air Services het vier Lodestars gedurende die 1950’s gebruik. Hulle het die registrasienommers ZS-ASV, ZS-ATL, ZS-DHK en ZS-DHL gehad.
  • Aircraft Operating Company het die Lodestars ZS-ASN, ZS-ATM en ZS-DHL op verskillende tye gebruik. Twee van hulle is gedurende hulle opmetingstake in ander lande geherregistreer.
  • Een L.18-40 is van 1946 tot 1951 as luukse vliegtuig met die naam St George deur Mitchell Cotts gebruik.
  • Die registrasies ZS-BZD en ZS-BZE is in 1948 vir P Konisky aan twee C-60A’s toegeken.
  • Vyf Lodestars is vir ’n kort tyd op naam van Bell Aviation in Suid-Afrika geregistreer.
  • Die L.18-56 Learstar met die registrasienommer ZS-NPI is deur National Process Industries ingevoer.

Hierdie paragraaf is gegrond op Becker.[3]

Hierdie foto van die Lodestar met die konstruksienommer 18-2058 (as ZS-ATL in ’n Comair-kleurskema) is op 2 September 1974 by die Randse Lughawe geneem.

SALM-museumvliegtuig ZS-ATL

[wysig | wysig bron]

Die Lockheed Lodestar met die registrasienommer ZS-ATL (konstruksienommer 18-2058) het gedurende sy SAL-diens die naam Jan van Riebeeck gehad. Generaal Smuts het hierdie skroefvliegtuig dikwels as ’n luukse transportvliegtuig gebruik. Ná die Tweede Wêreldoorlog het opeenvolgende Ministers van Vervoer die vliegtuig in dieselfde rol gebruik. Comair het die masjien in 1954 van die SAL gekoop en dit tot November 1968 gebruik. Later het die Lodestar deel van die statiese uitstallings van die SALM-museum by Swartkop naby Pretoria in Suid-Afrika uitgemaak.[9][10]

Lodestar ZS-ATL word op 19 September 2014 as ’n statiese uitstalling by SALM-museum Swartkop gesien. Shackleton 1721 verskyn in die agtergrond.

Fotogalery

[wysig | wysig bron]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. Taylor, Michael (1995). Jane’s Encyclopedia of Aviation (in Engels). Crescent Books. pp. 595, 596. ISBN 0-517-10316-8.{{cite book}}: CS1 maint: date and year (link)
  2. 1 2 Brent, Winston (November 2005). 85 Years of South African Air Force 1920 – 2005 (in Engels). Nelspruit, South Africa: Freeworld Publications CC. p. 55. ISBN 0-958-4388-9-7.{{cite book}}: CS1 maint: date and year (link)
  3. 1 2 3 4 Becker, Dave (Julie 1981). "LOCKHEED TWINS". African Air Review. 8 (July to August 1981): 10 to 13 via Aviation Society of Africa.
  4. 1 2 3 4 Spring, Ivan (1996). Winged Springboks 1934 to 1996 The aircraft of South African Airways through sixty-two years as Africa’s premier air carrier (in Engels). Spring Air. pp. 8, 28. ISBN 0-958- 3977-4-0.{{cite book}}: CS1 maint: date and year (link)
  5. Spring, Ivan (1996). Winged Springboks 1934 to 1996 The aircraft of South African Airways through sixty-two years as Africa’s premier air carrier (in Engels). Spring Air. p. 8. ISBN 0-958- 3977-4-0.
  6. Burnett, Ian (1981). Civil Aircraft Registers of Africa (in Engels). Air-Britain (Historians) Ltd. pp. 135 to 137.{{cite book}}: CS1 maint: date and year (link)
  7. Austin-Williams, John (21 Julie 2024). "The South African Airways Museum Society, NPC Preserving South Africa's Civil Aviation History since 1986 Past, Present and Future". SAA Museum History. Besoek op 6 Augustus 2025.
  8. 1 2 3 4 5 6 7 Austin-Williams, John (21 Julie 2024). "The South African Airways Museum Society, NPC Preserving South Africa's Civil Aviation History since 1986 Past, Present and Future". SAA Museum History. Besoek op 6 Augustus 2025.
  9. Vosloo, Louis (Desember 1974). "LODESTAR ZS-ATL TO BE PRESERVED". Aviation Society of Africa Newsletter. 1 (11): 4 via Aviation Society of Africa.
  10. Smy, Ken (Februarie 1975). "LODESTAR ZS-ATL". Aviation Society of Africa Newsletter. 2 (1): 4 via Aviation Society of Africa.
Lockheed L.18 Lodestar
Morty Proxy This is a proxified and sanitized view of the page, visit original site.