Gaan na inhoud

Douglas DC-6

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Douglas DC-6
'n Douglas DC-6B van Western Airlines, Okt. 1956
Tipe Lugdiens- en vragvliegtuig
Vervaardiger Douglas Aircraft Company
Nooiensvlug 15 Februarie 1946
Bekendstelling Maart 1947 met American Airlines en United Airlines
Status In beperkte gebruik
Hoofgebruiker Pan Am
Vervaardig 1946–1958
Aantal gebou 704
Ontwikkel van Douglas DC-4

Die Douglas DC-6 is 'n skroefaangedrewe passasiers- en vragvliegtuig wat van 1946 tot 1958 deur die Douglas Aircraft Company gebou is. Oorspronklik bedoel as 'n militêre vervoermiddel teen die einde van die Tweede Wêreldoorlog, het Douglas dit ná die oorlog herontwerp om met die Lockheed Constellation in die langafstand- kommersiële vervoermark mee te ding. Douglas het meer as 700 gebou, en baie vlieg steeds in vrag-, militêre en veldbrandbeheerrolle.

Die DC-6 was bekend as die C-118 Liftmaster in die Amerikaanse Lugmag en as die R6D in die Amerikaanse Vloot voor 1962, waarna alle Amerikaanse Vloot-variante ook as die C-118 aangewys is.

Die lugrederye wat nie die Lockheed Constellation bestel het nie, het gevind dat die XC-112A, die militêre prototipe van die DC-6, goed in hulle behoefte aan ’n drukvaste lynvliegtuig kon voorsien. Gevolglik het American Airlines en United Airlines die bal aan die rol gesit deur eerste die DC-6 te bestel.[1]

Burgerlike variante van die DC-6

[wysig | wysig bron]

Die DC-6 is in drie hoof- burgerlike weergawes, naamlik die DC-6, die DC-6A en die DC-6B, gebou.[1]

Douglas DC-6 SE-BDA in die laat-1940’s

Die gewig van die DC-6 het volgens klante se spesifikasie gewissel, naamlik van 87,900 tot 98,800 kilogram en die brandstofvermoë het van ongeveer 12 574 liter (in agt tenks) tot ongeveer 18 671 liter (in tien tenks) gewissel. Die meeste DC-6’e het aanvanklik 50 sitplekke gehad (twee weerskante van die gang); daar was ook ’n driesitplekrusbank aan die agterkant van die passasierskajuit. Die sitplekke is later tot 68 en toe 86 verhoog (deur die vliegtuig met vyf sitplekke langs mekaar toe te rus en die afstand tussen die sitplekke te verminder). Sommige DC-6-vliegtuie is in vragweergawes omskep: hulle kajuittoebehore is verwyder en ’n versterkte kajuitvloer en ’n groot hoofdekvragdeur is geïnstalleer.[1]

DC-6A

[wysig | wysig bron]
Die Douglas DC-6A met die registrasienommer YA-DAN van Ariana Afghan Airlines het die konstruksienommer 44259.

Die DC-6A het kragtiger weergawes van die Double Wasp-enjins met water-metanolinspuiting gehad. Die romp van die DC-6A was langer en ruimer en die vliegtuig het ’n verhoogde maksimum massa, groter brandstofvermoë en beter werkverrigting as die DC-6 gehad. Die eerste weergawes van hierdie nuwe model is geoptimaliseer as ’n vragvliegtuig wat ’n versterkte kajuitvloer gehad het en twee vragdeure aan die linkerkant van die romp gehad het. Die afmetings van hierdie deure was 2,01 meter by ongeveer 3,2 meter; een was voor die vlerk en die ander een agter die vlerk. Daar was ook ’n hystoestel wat aan een van die vragdeure geheg kon word en aan boord die vliegtuig gestoor kon word wanneer dit nie in gebruik is nie. Voor die agterste vragdeur was daar ook ’n toegangsdeur vir passasiers. Die kajuitvensters van die meeste DC-6A’s was bedek met metaaldeksels wat verwyder kon word sodat die vragweergawe weer in ’n passasiersweergawe omskep kon word.[1]

DC-6B

[wysig | wysig bron]
Douglas DC-6B met Double Wasp-enjins van 2400 perdekrag

Die DC-6B het dieselfde afmetings as die DC-6A gehad, maar was vir die vervoer van passasiers geoptimaliseer en het dus nie die versterkte vloer en twee vragdeure van die vragvliegtuig gehad nie. Dieselfde reeks opsies as vir die DC-6A is aan klante gebied, naamlik Double Wasp-enjins met water-metanolinspuiting, brutomassa van tot 107 000 kilogram en ’n brandstofvermoë van tot ongeveer 20 866 liter. Die DC-6B het aanvanklik 52 sitplekke gehad en later 82 of selfs 102 vir huurvlugte. Baie DC-6B’s is, nadat hulle deur die hooflugvervoerders uit diens gestel is, in vragvliegtuie omskep deur die oorspronklike kajuitvloer met versterkte vloere te vervang. Sulke vliegtuie het ook óf een vragdeur (voor die vlerk) óf twee vragdeure aan die linkerkant van die romp gehad (hierdie vragdeure was voor en agter die vlerk). Twee DC-6B’s is ook omvattend deur die Ingenieursdepartement van Sabena gemodifiseer en toegerus met swaaisterte wat na regs geskarnier was (hulle konstruksienommers was 44434 en 45202). Die agterste deel van die romp en die stertoppervlakke is gemodifiseer. Een vliegtuig het na Spantax (44434, registrasienommer EC-BBK) in Spanje en die ander een het na Kar-Air O/Y (45202, registrasienommer OH-KDA) in Finland gegaan. Konstruksienommer 44434 is later N434TA geregistreer en deur Northern Air Cargo bedryf. Konstruksienommer 45202 is later N867TA geregistreer en ook deur Northern Air Cargo bedryf.[1][2]

Die verskillende militêre variante van die DC-6

[wysig | wysig bron]
Die stertdeel van 'n Douglas C-118B van die VSA-vloot word gesien.

Die VC-118 is vir President Truman van Amerika gebruik en het die konstruksienommer 42881, reeksnommer 46505 en die naam Independence gehad. Hierdie vliegtuig is van 4 Julie 1947 tot Mei 1953 vir die President gebruik en daarna is dit as BBP-transportvliegtuig deur die Military Air Transport Service gebruik.[1]

Die Koreaanse Oorlog het daartoe aanleiding gegee dat die VSA se Departement van Verdediging ’n weergawe van die DC-6A as standaard- militêre transportvliegtuig vir sowel die USAF as die VSA-vloot aangeskaf het. Dit het bestaan uit 101 C-118A’s vir die USAF en 65 R6D-1’s vir die VSA-vloot (in September 1962 C-118B’s hernoem); 40 hiervan is na die USAF oorgeplaas). Die meeste van die C-118A’s en R6D-1’s was toegerus om 74 militêre passasiers in betreklik beskeie gemak of ongeveer 12245 kilogram se vrag te dra. Die kajuit van baie was egter ingerig om minder passasiers te vervoer in gerief wat min of meer dieselfde as dié van burgerlike lynvliegtuie was.[1]

Vyf-en-dertig van hierdie vliegtuie met weelderiger akkommodasie is as VC-118A’s deur die USAF benoem en vier as R6D-1Z’s vir die VSA-vloot (later VC-118B’s).[1]

C-118A’s wat vir mediese afvoer gemodifiseer is, was as MC-118A’s bekend en dié wat vir fotokartering gebruik is, is RC-118A’s genoem. Die MC-118A’s was toegerus vir 60 draagbare en hulle mediese versorgers. Twee ongewone modifikasies was die vliegtuie met die reeksnommers 53-3273 en 53-3283, wat as lugbevelsposte deur Temco in Texas gemodifiseer is. Nog ’n C-118A, die een met die reeksnommer 53-3245, het ’n EC-118A-toetsbed vir elektroniese toerusting geword.[1]

Enjins

[wysig | wysig bron]
Die Douglas DC-6 met die registrasienommer 9Q-CGZ word op 4 Mei 2003 by die Randse Lughawe gesien.

Die verskillende variante van die DC-6 het Pratt & Whitney R-2800- of Double Wasp- radiale enjins met ’n opstygstukrag van 2100 of 2200 perdekrag tot 2400 perdekrag of 2500 perdekrag gehad. Die hoër stukrag is verkry deur water-metanolinspuiting by opstyging te gebruik.[1]

Getal vliegtuie geproduseer

[wysig | wysig bron]

Die produksiesyfer vir die DC-6 en sy variante was 704 eenhede. Al die variante van die DC-6 is by die Santa Monica-aanleg gebou. Die Douglas DC-6 is as die DC-6 (171), DC-6A (78), DC-6B (287), XC-112A (1), VC-118 (1), C-118A (101) en R6D-1 (65) gebou.[1]

DC-6’e in diens van lugrederye

[wysig | wysig bron]

Individuele DC-6-vliegtuie

[wysig | wysig bron]

AANTEKENINGE

Waar ’n identiteitsnommer tussen hakies verskyn, beteken dit dat die bepaalde vliegtuig bestem was om daardie identiteit te hê, maar dat dit nie opgeneem is nie. Die inligting wat hierna volg, is verkry in die Piston-Engined Airliner Production List[2] asook in die volgende uitgawes van die nuusbriewe van die Aviation Society of Africa: Januarie 1996, Mei 1996, Junie 1997, Julie 1997, Augustus 1997, September 1997 en Oktober 1997 en die African Air Review van Maart/April 1980, Mei/Junie 1980, Julie/Augustus 1980, September/Oktober 1981, Oktober/November/Desember 1985 en Januarie 1986.

Konstruksienommer 42881

[wysig | wysig bron]

Die Douglas DC-6 met die konstruksienommer 42881 is as ’n C-118-DO gebou. Dit is op 1 Julie 1947 aan die USAAF afgelewer en is in ’n VC-118-DO omskep en die reeksnommer 46-0505 is aan die masjien toegeken. Die VC-118 is vir President Truman van Amerika gebruik en het die naam The Independence gehad. Hierdie vliegtuig is van 4 Julie 1947 tot Mei 1953 vir die President gebruik en daarna is dit as BBP-transportvliegtuig deur die Military Air Transport Service gebruik. As The Independence het die voorste gedeelte van die vliegtuig 24 sitplekke gehad wat in 12 beddens vir lede van die presidensiële personeel omskep kon word. Die agterste gedeelte van die kajuit was uitgerus as ’n presidensiële suite met ’n rusbank wat in ’n bed omskep kon word, ’n leunstoel en ’n konferensietafel. Nadat die vliegmasjien aan diens onttrek is, is dit aan die Smithsonian Institute geskenk. Tans word dit in die Nasionale Museum van die United States Air Force uitgestal.

Konstruksienommer 43127

[wysig | wysig bron]

Die Douglas DC-6 met die konstruksienommer 43127 het die identiteitsrekord (SE-BDI), VH-BPG, ZK-BGB, NZ3632, N254N, CF-PWP, N80MA, 9Q-CPL en EL-WNH (Julie 1997 op naam van Transair Cargo geregistreer).

Hier word die DC-6 met die konstruksienommer 43127 op 7 Februarie 1998 as EL-WNH by Lanseria gesien.

Konstruksienommer 43573

[wysig | wysig bron]

Die vliegtuig met die konstruksienommer 43573 is op 18 Oktober 1952 as ’n C-118A met die reeksnommer 51-3826 aan die USAF afgelewer. Daarna het hy die volgende burgerlike registrasies gehad: N203G, N54G en 9Q-CGZ (Desember 1996/Januarie 1997 geregistreer). Uiteindelik is hierdie skroefvliegtuig aan diens onttrek en by die Randse Lughawe gestoor.

Konstruksienommer 43681

[wysig | wysig bron]

BuNo 131578 is op 27 Januarie 1953 as ’n R6D-1 aan die VSA-vloot afgelewer en is daarna in 1958 met die reeksnommer 51-17634 na die USAF oorgeplaas, maar is in 1964 as BuNo 131578 terug na die VSA-vloot. Die vlootbenoeming van die R6D-1’s was vanaf September 1962 C-118B.

Konstruksienommer 43740

[wysig | wysig bron]

Die Douglas DC-6B met die konstruksienommer 43740 het die identiteitsrekord N8223H, F-OCYJ, OO-IFA, N799TA, 9J-AEP (in 1979 geregistreer) en N84AU (9J-AEP is in Oktober 1979 as N84AU uitgevoer). Die vliegtuig is op 18 Mei 1989 aan diens onttrek en in November 1990 by Lanseria opgebreek; die neusgedeelte het na die Suid-Afrikaanse Lugdiens-museumvereniging gegaan en is op ’n leningsgrondlag aan die SAL Tegnies-verfwerkswinkel gegee.

Konstruksienommer 44635

[wysig | wysig bron]

In die meegaande foto word die voordeel van die Douglas C-118 met die reeksnommer 53-3264 gesien. Hy het die konstruksienommer 44635 en is as ’n Douglas C-118A gebou en is op 13 April 1955 aan die USAF afgelewer.

Konstruksienommer 44639

[wysig | wysig bron]

Die Douglas C-118 met die reeksnommer 53-3268 het die konstruksienommer 44639. Dit is as ’n Douglas C-118A gebou en is op 2 Mei 1955 aan die USAF afgelewer.

Konstruksienommer 44645

[wysig | wysig bron]

Die Douglas C-118A met die konstruksienommer 44645 het die identiteitsrekord 53-3274, N50293, C-GKFF, TG-CGO, YV-501C, 9Q-CJP(2) (in 1996/1997 op naam van Transair Cargo geregistreer) en EL-WIL (in Julie/Augustus 1997 op naam van Transair Cargo geregistreer). Terwyl die masjien N50293 geregistreer was, is dit in ’n DC-6A omskep. Die vliegmasjien is as EL-WIL aan diens onttrek en gestoor.

Konstruksienommer 44674

[wysig | wysig bron]

Die C-118A met die reeksnommer 53-3303 het die konstruksienommer 44674 en is op 19 Desember 1955 aan die USAF afgelewer. Die vliegtuig word op 15 Julie 1967 gesien. Volgens die byskrif by die foto was dit die persoonlike transportvliegtuig van die Supreme Allied Commander Europe (SACEUR), wat op daardie tydstip Generaal Lyman L Lemnitzer was.

Konstruksienommer 45201

[wysig | wysig bron]

Die Douglas DC-6B met die konstruksienommer 45201 het die identiteitsrekord  N576, SU-ANM, OY-STS, N515TS, ZS-MTE, 9Q-CMC(2) en 9Q-CJX(2) (in 1996/1997 op naam van Transair Cargo geregistreer). Terwyl die vliegtuig N515TS geregistreer was, is hy in Julie 1973 in ’n vragweergawe omskep.

Konstruksienommer 45319

[wysig | wysig bron]

Die Douglas DC-6B met die konstruksienommer 45319 het die identiteitsrekord N578, SU-ANN, OY-STR, N515TR, N91BL, N34C en 9Q-CYO (in Desember 1996 geregistreer). Terwyl die masjien N515TR geregistreer was, is dit in Augustus 1973 in ’n vragvliegtuig omskep.

Die Douglas DC-6B met die konstruksienommer 45319 word op 11 Julie 1997 as 9Q-CYO by Lanseria-lughawe gesien. Let op die dubbele vragdeur agter die vlerk.

Konstruksienommer 45329

[wysig | wysig bron]

Die Douglas DC-6B met die konstruksienommer 45329 het die identiteitsrekord CF-CZV, SE-BDG, LN-SUT, OY-DRC, G-SIXB, 3D-ASA (in Mei 1980 op naam van Air Swaziland Beperk geregistreer), 3D-ASB (in 1981 op naam van Air Swaziland geregistreer) (deur Interocean Airways verkry, in November 1985 as onderdeelbron na Suid-Afrika gevlieg), N90300, C9-ASR, ZS-MUL, 9Q-CJE en ZS-XXX.

Suid-Afrikaanse Lugdiens-museumvereniging

[wysig | wysig bron]

DC-6 ZS-XXX is vir ’n kort tydjie deur die Suid-Afrikaanse Lugdiens-museumvereniging besit. Die skroefvliegtuig is in 1998 verkry. Ná verskeie uitstappies na die Randse Lughawe om die vliegtuig te sien en daaraan te werk ten einde hom na Johannesburg Internasionale Lughawe te vlieg is ’n bemanning gevind om hom te vlieg. Die nodige vliegpermit is ook van die Burgerlugvaartowerheid van Suid-Afrika verkry. Vroeg op ’n somber Septemberoggend is die eerste stadium voltooi om die enjins te laat loop. Ná verskeie verwyderings en vervangings van vonkproppe van die nommerdrie-enjin het al vier Pratt & Whitney-enjins begin loop. Die vertrekdatum na Johannesburg Internasionale Lughawe (ICAO-kode FAJS) was 8 November 1998. Ná opstyging by die Randse Lughawe en ’n baie vinnige en lae verbyvlug was die nuwe vliegtuig by FAJS.

Aangesien Swartkop die nuwe tuiste van die SAL-museumvereniging sou word, moes die DC-6 vir nog ’n vlug geneem word. Alles moontlik is gedoen om die vliegtuig respektabel te laat lyk, maar ’n aanbod is vir hom gedoen en hy het na nuwe eienaars gegaan.

DC-6 ZS-XXX het vir die oorgrote deel van tien jaar agteruitgegaan. Hy het in 1998 by Swartkop aangekom en was vir die Suid-Afrikaanse Lugdiens-museumvereniging bestem. Die Vereniging het op daardie tydstip ’n loods by Swartkop beset en die SA Historiese Vlug het die Douglas DC-3 en DC-4’s vanaf Swartkop bedryf. Die Suid-Afrikaanse Lugmag het egter gedurende 2005 die area nodig gekry toe die nabygeleë Lugmagbasis Waterkloof se fasiliteite opgeknap moes word en al die eskaders terug na Swartkop moes verskuif. Die SA Historiese Vlug en die SAL-museumvereniging is gedwing om die perseel te ontruim. Die SAL-museumvereniging het voor die uitdaging te staan gekom om die DC-6 van Swartkop af te vlieg of hom per pad te verskuif. Albei opsies was egter te duur vir die SAL-museumvereniging en hulle het besluit om die vliegtuig te verkoop.[3]

Douglas DC-6B ZS-XXX op 1 Julie 1999 te Swartkop.

Nuwe eienaars

[wysig | wysig bron]

Peter Bauman, ’n entoesias, het op die ou einde met die vliegtuig gesit. Toe hy egter te staan kom voor die stygende koste wat met die vliegtuig se lang verblyf by Swartkop verband hou, het hy besluit om die tuig aan die Suid-Afrikaanse Lugmag-museum aan te bied. Daardie museum het egter die aanbod van die hand gewys. Dit het gelyk asof die enige ander opsie was om weg te doen met die vliegtuig. Toe Witold Walus en Willie Muntingh, twee sakevennote en geesdriftige versamelaars, van die vliegtuig te hore kom, het hulle ’n aanbod gemaak om hom te koop. Die Lugmag wou die vliegtuig wegkry van Swartkop af, en Witold en Willie het ’n ambisieuse plan beraam om die vliegtuig van Swartkop af na hulle kleinhoewe noord van Pretoria te vlieg, waar hy as hekwag by die ingang van hulle sakeperseel sou pryk. Dit sou die konstruksie van ’n landingstrook oor verskeie aangrensende kleinhoewes behels om die vliegtuig se aankoms daar te akkommodeer.

Die eerste tegniese inspeksie van die vliegtuig aan die einde van 2008 het professionele advies ingesluit dat die tuig eerder per pad verskuif moet word om onnodige koste te vermy. Die vliegtuig het vir tien jaar stilgestaan en sou aansienlike tegniese aandag benodig. Die opsie om hom per pad te verskuif sou egter beteken dat die hoofspar gesny moet word sodat die vlerke verwyder kan word. Volgens Witold sou dit die skroefvliegtuig nutteloos maak, wat die einde van die vliegtuig sou beteken. En so is daar besluit dat die vliegtuig van Swartkop af gevlieg sou word. ’n Ervare DC-6-ingenieur, Mike Mayers, is gewerf en sy span het met die vervelige werk begin om die vliegtuig so te herstel dat hy na die kleinhoewe gevlieg sou kon word. Baie uitdagings is die hoof gebied, en daar was steeds ’n paar wat oorbrug moes word, maar die geesdriftige Witold en Willie het by hulle besluit gebly om hierdie geskiedkundige vliegtuig te bewaar. Vir sy vlug na die kleinhoewe is die DC-6 ZS-MUL geregistreer en op 4 Desember 2010 na sy nuwe tuiste gevlieg.[4]

In die twee meegaande foto’s word die enjins van die vliegtuig op 20 Julie 2010 by Swartkop laat loop.

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. 1 2 3 4 5 6 7 8 9 10 11 Francillon, René (Julie 2011). SKYLEADERS DC-1 through DC-7: The Douglas propliners (in Engels). Sparkford, Yeovil, Somerset, UK: Haynes Publishing. pp. 253–260. ISBN 978 0 85733 157 1.{{cite book}}: CS1 maint: date and year (link)
  2. 1 2 Eastwood and Roach, Tony and John (Oktober 2002). Piston-Engined Airliner Production List (in Engels). West Drayton, Middlesex, England: The Aviation Hobby Shop. pp. 299, 306. ISBN 0 907178 94 4.{{cite book}}: CS1 maint: date and year (link)
  3. "With the SAA Museum Society". The Douglas DC-6 Association of South Africa: Individual Aircraft History Construction number 45329. Besoek op 27 Maart 2026.
  4. Steyn, Leon (11 Oktober 2010). "EMPRESS OF SUVA – SAVED Suva's Saviour". The Douglas DC-6 Association of South Africa Individual Aircraft History Construction number 45329. Besoek op 27 Maart 2026. {{cite web}}: line feed character in |website= at position 45 (hulp)
Douglas DC-6
Morty Proxy This is a proxified and sanitized view of the page, visit original site.